• Banner2016
Saturday, 26 October 2013 07:41

Boodskap van skoolhoof

Die H.T.S. Daniel Pienaar het 'n baie ryk erfenis van tradisie, hoë akademiese standaarde, sport- prestasie en 'n verskeidenheid ander ko-kurrikulere hoogtepunte.  Al hierdie aspekte van ons skool het ten doel om ons pragtige leuse, "Volkome Toegerus" altyd waar te maak.  Ons is baie bevoorreg om 'n pragtige skoolkampus te hê, wat uitstekende fasiliteite bied.  Al die skoolgeboue, sportfasiliteite en koshuise is baie prakties binne die grense van die kampus, wat gekenmerk word deur 'n groot verskeidenheid plante en bome.

Met 'n visie van "Waardegedrewe, toonaangewende en innoverende onderwys, geïnspireer deur leerderpotensiaal" is die belange van ons leerders altyd sentraal in alles wat plaasvind. Hoe suksesvol 'n kind se skoolervaring is, word by Daniel Pienaar bepaal deur dit wat in die klaskamer en werkswinkel plaasvind.  Daarom is ons daarop ingestel om 'n baie gesonde onderrig- en leerklimaat in stand te hou.  By Daniel Pienaar is daar reeds baie gedoen om in pas te bly met die eise van die tegnologiese eeu waarin ons leef.  Elke onderwyser wat by die skool aangestel word, word met ‘n skootrekenaar uitgereik  en elke klaskamer is toegerus met 'n dataprojektor.  Dus is daar reeds ver gevorder met elektroniese onderrig.  Ons is ook bevoorreg om 'n draadlose netwerk deur die hele skool beskikbaar te hê, wat ADSL internet die hele dag beskikbaar stel. 

Tegniese onderrig in Elektriese-, Meganiese-, en Siviele tegnologie vind plaas in baie goed toegeruste werkswinkels deur baie ervare onderwysers.  Ingenieurs Grafika en Ontwerp vind plaas in baie doelmatige tekenlokale en 'n CAD-rekenaarsentrum.  Die res van die vakke wat aangebied word, Tale, Wiskunde, Tegniese Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Tegniese Wetenskap  kombineer baie goed met die bogenoemde drie tegnologievakke.  Dit bied 'n uistekende pakket aan skoolverlaters vir tersiëre studie as ingenieurs, tegnoloë en vakgekwalifiseerde tegnici  of die wêreld van werk.

Die Tiere van Daniel Pienaar is baie lojaal en trots om deel te wees van die oudste tegniese skool in die RSA.  Selfs nadat leerders aan die einde van gr. 12 die skool verlaat het, bly die band tussen hulle en die skool baie gesond en ondersteun hulle die skool steeds in groot getalle met oorgawe. 

Baie welkom by hierdie webwerf.  Ek vertrou dat u 'n goeie voorsmakie sal kry van wat Daniel Pienaar vir u kan bied.

Baie dankie dat u ons webwerf besoek!

Last modified on Monday, 27 March 2017 03:51
More in this category: Visie en Missieverklaring »